Sunday, March 8, 2020

Die Sonde Van Biddeloosheid.

Gebedsversoek, Sondag 08 Maart 2020

Die Sonde Van Biddeloosheid (geleen by Carlo Slootweg)

📖 
_Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde._
```JAKOBUS 4:17 AFR53```

Ons moet nooit vergeet dat gebed nie net vir versoeke is nie, maar ook vir beskerming en voorbereiding. 

Gebed gee nie net vir ons wat ons soek nie; dit berei ons voor en beskerm ons teen dit wat ons nie wil hê nie. 

In die tuin van Getsemane, was Jesus beangs toe Hy aan die gruwels van die kruis gedink het. Al wat hy wou gehad het, is dat die dissipels daar moes wees terwyl Hy bid. 

Omdat hy God is, het Hy geweet wat voorlê. Hy het al die besonderhede geken en het dus gebid: 
_“My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil."_
(Matteus 26:39)

Al waarvoor Jesus gevra het, was ʼn bietjie kameraadskap. Hy het nie ʼn preek nodig gehad nie; Hy het vriende nodig gehad, maar sy vriende het geslaap en dit was ʼn direkte resultaat van die sonde van selfvertroue. 

Dieselfde kan van ons waar wees. Ons bid wanneer ons dink dis nodig om te bid. _Wanneer ʼn krisis ons tref, as ons slegte nuus van die dokter kry, wanneer ons afgedank word, wanneer ons probleme met ons huwelik en kinders het, wat doen ons?_ 
Ons bid en dit is goed. Dit is wat ons behoort te doen. 

_Wat dan wanneer dit goed gaan?_ 
_As die rekeninge betaal is, as dit by die werk goed gaan, as daar geen slegte nuus van enige kant af is nie, *bid jy dan?*_ 
_Is dit omdat jy dink jy het nie nodig om dit te doen nie?_ 
_*Gaan dit oor te veel selfvertroue?*_ 

Eintlik kan versuim om te bid ʼn sonde wees. Sonde is nie net om nie ʼn opdrag na te kom nie, alhoewel dit ook geld. 

Daar is ook die sonde van versuim. 
(Jakobus 4:17)

Trots / selfvertroue en biddeloosheid gaan hand-aan-hand.

```Kom ons raak stil voor die HERE:```  🙏
_Hemelse Vader, lê die begeerte in my en in ons volksgenote om U gedurig in gebed aan te roep_

🙌
_Die seën van die Here oor julle! Ons seën julle in die Naam van die Here_ 

```© Carlo Slootweg```
_Protestantse Hervormings Kerk Klerksdorp_
_Whatsapp @ +27 74 953 8088_